"Apologia" deur MARLISE JOUBERT [boodskap #46870] |
Di, 17 Julie 2001 22:33 |
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
Apologia
Marlise Joubert
Ek het die wolke geskryf die weerlig
ek het die appelbome in die reën geskryf
ek het die seisoene van alle paaie geskryf
gesing gedans en borrelend
oor die vensterbank geklim
tuinpad langs getrippel en in die nes
van heuningblomme weggekruip
ek het my vlerke opgevou
my geurige toebroodjies uitgehaal
en die wolkemaal geëet en die appelbome
en die seisoene van alle toegegroeide paaie
daar is niks meer om grensloos te integreer nie
om in vorms te giet en die afdrukke oor die land
met busse of treine of vliegtuie te stuur nie
niks is meer só nuut of oondvars brode
om in beswyming oor te raak en ure aaneen
die druiwe uit die priële te korrel nie
alles wás
nog voor die hane kraai
die ou bokke kom ook in die kraal
en ek is hier om die lewe uit te trek
en aan te trek
om voëls in pruimbome te skryf
totdat die horisonne rou daarvan
rooi soos oopgebarste pruime rou
oor die bose skrywers van ons tyd
en ek sal bieg en weer en weer
die dadels van blare oor die water skryf
dat ek die lewe kaal uitgetrek het
om onverbode vrugte te eet
geheimenisse ongeheim te skryf
want niks is bevange in 'n kaal lewe nie
die winter skil die bome af
en ek trek tousandale aan slegs
vir die woestyn wat brand
ek het die berge balkonne van die landsskap
vol riviere en huise bruin en blou
kreukels in die somerwit geskryf
ek het 'n loflied geskryf op die blaaie van die son
oor die onbevange ongeskrewe vryheid van my kosmos
|
|
|